NEWS | Latest news articles

Nasie in Gesprek – Bevordering van die Beeld van Landbou

  • 23 May 2016
  • 2169
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



Op die agenda was die ‘Bevordering van die Beeld van Landbou’ met die welbekende Senior Nuusanker en Uitsaaier, Jeremy Maggs, wat hierdie sessie gelei het. Dit was die grootste paneel met ses gesogte paneelgaste wat hierdie boeiende tema aangepak het met Francois Strydom, Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes, Chris Venter, Hoof Uitvoerende Beampte van AFGRI, Omri van Zyl, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri SA asook Andy Rice, Voorsitter van Yellowwood, Rob van Rooyen, Uitvoerende Direkteur – Strategie van House of Brave en
Phumi Mashigo, Stigtingsvennoot van Ignitive.
 
Soos alles in die lewe het die beeld van landbou ook twee kante, “dit wat die sektor van hulle self dink en dit wat die persepsie daar buite is” - so het Jeremy sy saadjie vir die gesprek geplant. Die manne aan die toppunt van landbou het hul kant eerste gestel. Francois het die sessie se groei bewerkstellig met die feite dat landbou nie anders as ander sektore is nie, “elke sektor het ‘n beeld. Maar dit is belangrik om hier tussen persepsie en feite te onderskei. Ons beeld is dat ‘n produsent dinamies en pragmaties is, en dat die boer oor jare sy posisie in die mark versterk het.” Chris het hierop gesê “Dit is egter nie maklik om persepsies te verander nie. Om persepsies te verander, moet ons eers individue met passie soek, en hulle dan vorentoe neem deur hulle te ondersteun.” Omri het op balans gefokus. Aan die een kant is daar voedselsekuriteit, “Suid-Afrika is die enigste land in Sub-Sahara Afrika waar daar wel voedselsekuriteit is,” dit moet behou word. Hy het aan die ander kant genoem dat landbou terselfdertyd baie doen om die beeld te verander, “Ons moedig self die privaatsektor aan om ook deel te raak van die sektor. Dit sal daartoe lei dat die sektor net al hoe vinniger sal groei.” En nuwe boere sal dan die sektor betree.
 
Die bemarkingsfundi’s het toe hul landbou-insette gelewer. Andy het reg by die begin begin, dat die woord ‘brand’ of kenteken egter sy oorsprong in die landbousektor het, maar dat dit ironies is dat die fokus van hierdie gesprek juis nou op die beeld van hierdie éinste sektor is: “Ek dink deel van die probleem in landbou is dat ons nie wéét wat die probleem is nie. Ons het nie ‘n kwantitatiewe idee van die probleem nie. Jy kan nie ‘n raaiskoot by jou beginpunt A neem nie, dan gaan jy verseker nie jou eindbestemming by punt B bereik nie.”
 
Rob was ook positief. Hy het verwys na ‘n John Deere slagspreuk waaraan hy help werk het: “Jou Toekoms is groen.” Ek dink dit opsigself was ‘n baie belangrike en positiewe sin wat passie en trots terugbring het. Maar dit gaan nie net om die kleur van landbou te verander nie. Daar is verseker bitter interessante dele in landbou. Ek dink jong mense is nou baie meer oop vir landbou as ‘n loopbaan.”
 
Phumi het ook op ‘n kenteken gefokus: “Die realiteit is dat in sekere gevalle, maak nie saak hoeveel keer jy oor die kenteken verf nie, dit sal nie die persepsie verander as daar fout met die karakter is wat jy probeer bemark nie.” 
 
Omri het vertel dat daar ‘n goeie toekoms in landbou is: “Ons het fantastiese mense. Die wêreld dink ons sektor is op steroïdes.” Hoewel die fokus deesdae op grondhervorming en voedselsekuriteit val, het Francois na ‘n belangrike punt verwys, “ons maak die punt dat grondeienaarskap nie gelyk aan voedselsekuriteit is nie.” Phumi het saamgestem en antwoord dat hoewel die fokus daar buite op talle negatiewe dinge in landbou is, is dit belangrik, “Om groter dink as net die kleiner sake daar buite.” Anders “verklein ons onsself oppad na grootheid.”
 
Oor bemarking het Rob dit goed opgesom “Boere is soos bye, hulle is baie stil maar sonder hulle gaan almal doodgaan.” So is die tyd dalk nou ryp om die stilte te breek om landbou na nuwe hoogtes te neem. Francois het genoem dat die landbousektor die bemarking moet doen, “die media is net die medium wat ons moet gebruik, dit bly ons in die landbousektor se verantwoordelikheid om die goeie stories te vertel,” het Francois passievol gesê en daarby gevoeg dat “ons nie die sosiale media moet onderskat nie,” in verwysing na die massiewe verkeer op al die sosiale mediaplatforms tydens die afgelope week se Nasie in Gesprek.
 
Om mee af te sluit, gaan dit daaroor om eienaarskap van die beeld van landbou te neem; en almal binne en buite die sektor kan hiermee te help. “Anders gaan ons oor twee jaar weer oor dieselfde dinge praat,” het Andy genoem. So, wees elke dag pro-aktief en skaaf elke dag aan die beeld van landbou.
 
Kliek op die volgende skakels om na die volledige program te kyk.
 

Kyk na al die episodes op Youtube, hou die webtuiste dop vir die uitsaaitye van die verskeie episodes op die verkillende televisiestasies en laai ons app af. Volg die gesprek ook op Twitter @nationconverse en kyk uit vir ons gereelde plasings op ons Facebook bladsy asook op Instagram.






Related Articles