NEWS | Latest news articles

Nasie in Gesprek kyk na familiebesighede

  • 13 January 2017
  • 2485
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



Die nuwe seisoen van Nasie in Gesprek het die luggolwe getref op kykNET, op Woensdag, 4 Januarie 2017.
 
In hierdie reeks is die span op reis deur die platteland om presies te sien hoe landbou ʼn impak het op die ekonomieë van die dorpe en stede waarbinne hulle funksioneer. Die nuwe aanbieder Rozanne McKenzie en reeksaanbieder, Theo Vorster, pak die baie relevante onderwerp van familiebesighede en opvolgbeplanning in episode een.
 
Die kamera fokus op die mooi landskappe van Parys en Robertson terwyl die impak van twee familieboerderye in daardie areas van naderby bekyk word. Jakobus Dannhauser en sy seun Johan werp ʼn bietjie lig op van die uitdagings wat hulle moet trotseer om hulle familieplase, Braklaagte en Goedgedact, te bestuur wat oor die 140 jaar terugdateer. Dit terwyl die HUB van Van Loveren Wynlandgoed, Phillip Retief, die storie vertel wat handel oor die sukses van die Four Cousins handelsmerk en die landgoed in die konteks van ʼn familiebesigheid.
 
Dan gaan die fokus terug na 13 September 2016 vir ʼn voorafopname van die Senwes Jongboer Toekomsfokusdag wat by Nampo naby Bothaville plaasgevind het. Hierdie gebeurtenis het vanjaar die 13de bestaansjaar gevier en was goed ondersteun met sowat 300 produsente wat die dag bygewoon het, sommiges jonk, en ander nie so jonk nie.
 
Deelnemers aan die bespreking wat oor die belangrikheid van familiebesighede in die algemeen in die Suid-Afrikaanse ekonomie en spesifiek in die landbousektor gehandel het, het ingesluit Senwes Groep HUB Francois Strydom, Die stigter van FABASA André Diederichs, asook Hendrik Wessels van Price Waterhouse Coopers terwyl die verrigtinge weereens deur Theo Vorster, HUB van Galileo Capital gelei was.
 
Die tweede sessie het gehandel oor die praktiese implikasies van familiebesighede om ʼn balans te vind tussen besigheidsbeginsels en familiedinamiek. Die paneel tydens hierdie bespreking was produsent Anton Botha en sy seun Heinrich van die plaas McGrath in die Bultfontein distrik, DJ van der Linde, die Vrystaat Jongboer van die Jaar wenner, en Gerhard Bruwer, Seniorbestuurder by Graan SA asook een van drie seuns wie lede is van Genade Boerdery.
 
FABASA se André Diederichs het gesê dat daar veral drie uitdagings in die suksesvolle bestuur van familiebesighede is. “Dit is krities belangrik om ‘n duidelike struktuur van die besigheid te hê wat aandui wie verantwoordelik is vir wat, tweedens moet daar verseker word dat almal dieselfde norme, waardes en verstandhouding oor die besigheidsbeginsels het en laastens moet die opvolgbeplanning duidelik uiteengesit wees.” Hier het Diederichs bygevoeg dat talle sake bespreek sowel as ooreengekom moet word, wat insluit of nie-bloedverwante persone in die raamwerk van opvolgbeplanning ingesluit gaan word al dan nie, asook hoe om vir pensioen voorsiening te maak.
 
‘n Uitdagende en innemende kykie na al die uitdagings van ʼn familiebesigheid in landbou. Jy kan verseker nie bekostig om ʼn enkele episode van Nasie in Gesprek in 2017 te mis nie!
 
Nasie in Gesprek – Met trots geborg deur Monsanto, Nedbank en Senwes, in samewerking met AFGRI, Hinterland en NWK.  
 
kykNET Program - Familiebesighede
 
Volledige opname by Senwes Jongboer Toekomsfokusdag:
 





Related Articles