Nuus Artikel

blog image
14 May
2019

Alle paaie lei na Nampo en Nasie in Gesprek 2019

Dinsdag 14 Mei 2019: Sessie 1- Nasie in Gesprek se tweede amptelike sessie het Dinsdagoggend, 14 Mei 2019 om 10:00 afgeskop tydens die eerste dag van Suid-Afrika se grootste landbougebeurtenis, die NAMPO Oesfees naby Bothaville in die Vrystaat.


Die openingsessie Maandagaand tydens die mediabekendstelling met Roelf Meyer, direkteur van In Transformation Initiative wat die sessie gelei het, is getiteld, Landbou – ‘n Globale Besigheid, waar staan Suid-Afrika?

Nick Binedell het Dinsdag se eerste sessie behartig, met die fokus op die Vennootskappe tussen die Publieke- en Privaatsektore om Volhoubare Ekonomiese Groei te bewerkstellig.

Die paneel het bestaan uit John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz; Rudi Dicks, Fasiliteerder van Uitkomstes vir Ekonomie en Inklusiewe Groei: Departement van Monitering en Evaluering; Langa Simela, Besigheidsontwikkelingsbestuurder: ABSA; en Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

Toe Rudi oor die regering se Publieke-Private Groei-Inisiatief (PPGI) uitgevra is het hy gesê dit is ‘n unieke inisiatief, omdat dit ‘n direkte inisiatief van die president is. “Dit is nie aan ‘n sekere department of amptenaar oorgedra nie, wat ‘n aanduiding is van die belangrikheid daarvan.”

Nick het gevra waarom hierdie inisiatief anders gesien moet word as die vele ander mislukte regeringsinisiatiewe van die verlede. “Hierdie is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, dit is ‘n langtermyn vennootskap met strategie en verantwoordbaarheid. Die een ding wat nie tydens die ander inisiatiewe teenwoordig was nie, is verantwoordbaarheid,” sê Rudi.

Jannie het genoem dat, “hierdie keer is al die partye [regering, private sektor en landbou] daarvan bewus en besef hulle dat hulle mekaar nodig het. Dit is of daar ‘n storm was en die brûe weggespoel het, en ons is nou besig om ware brûe van beide kante te bou. Ons besef ook dat ons nie op ons eie agendas kan fokus nie, anders gaan die brûe nie in die middel ontmoet nie, waarna alles weer inmekaar sal tuimel.”

John het bygevoeg “daar word besef dat die trajek oor die afgelope nege jaar afwaarts was, en ons almal besef dat indien ons nie kan saamwerk nie, ons nie hierdie trajek sal verander nie. Ons kan dit ook nie alleen doen nie. In die verlede was die besigheidsektor as die vyand beskou en andersom, nou is daar ‘n baie meer egte verandering in die houding van beide kante.”

Langa het die punt gemaak dat “landbou moet landbou-ontwikkeling lei” en dit duidelik gemaak dat landbou-organisasies en instansies die regering en privatesektor raad moet gee en lei.

Nick het ook die belangrikheid beklemtoon dat soos ons vorentoe beweeg, moet alle inisiatiewe inklusief wees.

Die paneel is daarna uitgevra oor hoe hulle die impak van die huidige inisiatiewe oor tien jaar sien uitspeel. Rudi het gesê dat indien ‘n toename in landbou se bydrae tot die BBP van 2,5% tot 10% kan verbeter, sal dit as suksesvol beskou word.

Hierdie gesprek stel verseker die standaard vir die res van die week se sessies wat ‘n ernstige, asook indiepte beeld van die toestand van landbou in Suid-Afrika sal weergee in die lig van die onlangse algemene verkiesing, asook President Cyril Ramaphosa se aankondiging van sy kabinet. Baie ontleders glo dat dit ‘n baie kleiner kabinet sal wees, wat ‘n nuwe landbou-administrasie sal insluit.

Om na die hele gesprek te luister en op hoogte te bly van die res van die geskeduleerde gesprekke wat regstreeks vanaf NAMPO 2019 gebeeldsend word, besoek die Nasie in Gesprek-webtuitse by www.nasieingesprek.co.za.

Leave A Comment