Nuus Artikel

blog image
29 Apr
2019

Die gesprek fokus op lewendehawe

Die gesprek het hierdie keer op lewendehaweboedery gefokus tydens die vierde episode van die nuwe Nasie in Gesprek-reeks. Die program neem die kyker op ‘n warrelwind toer deur Potchefstroom om meer tewete te kom oor al die toeriste-aantreklikhede hier. Ons word ook voorgestel aan ‘n pionier in dié bedryf, Gideon Oosthuizen en ons kyk presies wat hoëdrukbeweiding behels.


Het jy geweet dat Potchefstroom ‘n plek is propvol mense met vakmanskap? Die stad het vier nasionale monumente, vier tersiêre instellings, net oor die 30 skole en nog baie opleidingsentrums ook. Magda Cilliers van Potchefstroom se toeriste-vereniging neem ons deur die ryk geskiedenis van Potchefstroom asook die prentjiemooi Huis van Totius in die agtergrond. Van die Sanlam Ouditorium tot die Klein Teater tot die liefdeslaan plaas Magda die fokus op van die verskeie elemente hoekom die Noordwes Universiteit se Potchefstroom Kampus die hartjie van Potchefstroom is.


Ons volgende stop was om Rysmierbult net buite Potchefstroom te besoek waar ons met lewendehawe-boer, Gideon Oosthuizen gesels het. Hier vertel hy ons meer oor die kopskuif wat hy moes maak om die sukses en die volhoubaarheid van sy boerdery te verseker.


Het jy geweet dat leer terugdateer tot die begin van die mensdom? Dit word ook al duisende jare gebruik as kledingsmateriaal sowel as beskermingskledingstukke. Kan jy raai hoeveel keer ons leerprodukte in ons dag-tot-dag bestaan gebruik? Ons gaan na Oasis Leerlooiery en ontdek die proses waar leergoedere, van die roumateriaal tot die bruikbare produk. Hierdie maatskappy vervaardig ‘n wye reeks leerprodukte, enigiets van handsakke tot rusbanke. Wat jy ookal benodig, hulle het dit verseker vir jou of kan vervaardig. Bestuurder Gareth Hoffman neem ons dan verder deur al die aspekte van hierdie unieke besigheid.


BFAP se dr Ferdie Meyer is in die ateljee en gesels met Rozanne oor die komplekse aard van die lewendehawe-waardeketting terwyl Theo op sy beurt met Gerhard Schutte van die Rooivleisprodusente-organisasie gesels wat ons kykers oor die waardeketting in die rooivleisbedryf inlig.


In die volgende episode reis ons na Letsitele in Limpopo om die sitrusbedryf te verken. Indien jy hierdie episode misgeloop het kan jy na die herhalings op kykNET kyk, Vrydae om 13:00, Saterdae om 17:30, Sondae om 17:00, Dinsdae om 16:30 en Woensdae om 14:00.


Moet ook nie die volgende 9 weke van die 13-weke lange reeks oor sitrus, kwekerye, bosbou, beet, Nampo Oesdag, koring, katoen en pekanneute misloop nie. Weekliks, elke Donderdagaand om 18:00 op kykNET, van nou af tot en met 27 Junie 2019. Vir meer inligting of die volledige skedule van hierdie nuwe reeks besoek asseblief die webtuiste www.nasieingesprek.co.za.

 

 

Leave A Comment