Nuus Artikel

blog image
6 May
2019

Kwekerye onder die vergrootglas op Nasie in Gesprek

Ons het kwekerye onder die vergrootglas geplaas tydens die vyfde episode van Nasie in Gesprek waar sitrus op die voorgrond is. Die program neem die kyker op reis na Limpopo waar ons die prentjiemooi Letsitele-streek ontdek.


Die landskap, warm en sonnige dae maak die Letsitele-streek dié perfekte toeristebestemming. Hoewel landbou ‘n groot rol speel om inkomste vir hierdie gebied te genereer word groter klem geplaas op die toeriste-aspek van die area.
Die eerste stop op ons toer van die streek is die Kaross handvervaardigde produkte. Die werkswinkel was begin om die plaaslike vrouens te help om ‘n volhoubare inkomste te genereer. Ons het ook die voorste sitplekke wanneer ons hulle pragtige skeppingswerke uit kraletjies kan besigtig en ons ook al die arbeid kan sien wat in die vervaardiging hiervan ingaan.
Tzaneen word gesien as die kommersiële krag van die Letsitele-streek. Die dorp is die toegangspunt tot die laeveld en word deur baie as die sitrushemel beskryf. Llandi van der Walt, Voorsitter van die Tzaneen Sakekamer vertel ons meer oor die landbougedrewe area en die verskillende landbouverwante produkte wat hier te vinde is. Sy neem ons ook deur die verskillende toeriste-aantreklikhede van die dorp en stel so ten toon wat die klein area alles het om te bied.
Volgende besoek ons die Du Roi Kwekery en fokus ons op die Nardocott kultivar wat verantwoordelik is vir die lekker ClemenGold mandarin. Zylon McGaffin, Algemene Bestuurder van die Du Roi Kwekery vertel ons van die verskillende soorte kultivars wat in die maatskappy ontwikkel is asook die verskil tussen ‘Mandarin’ en Clemengold. McGaffin neem ons dan ook deur die verskillende fases van ontwikkeling van ‘n betrokke kultivar.
Lindie Stroebel maak ook ‘n draai in die ateljee en gesels met Rozanne oor die sitruswaardeketting. Sy benadruk ook die belangrikheid om bewus te wees van die behoeftes van die kleiner handelaars daar buite. Daarvandaan neem sy ons deur die selektering van sitruskultivars en wat benodig word voor daar besluit word op ‘n spesifieke kultivar. Theo Vorster praat dan met ClemenGold se stigter, Abram van Rooyen en hulle verpak wat die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf vermag het en hoe hulle gegroei het tot waar hulle vandag is.
In die volgende episode reis Nasie in Gesprek na Bainsvlei net buitekant Bloemfontein in die Vrystaat waar ons van nader kennis maak met die koringbedryf.
Om die herhalings te kyk skakel in op kykNET, Vrydae om 13:00, Saterdae om 17:30, Sondae om 17:00, Dinsdae om 16:30 en Woensdae om 14:00.

En moet ook nie die volgende 9 weke van die 13-weke lange reeks oor uie, lewende hawe, kwekerye, bosbou, beet, Nampo Oesdag, koring, katoen, pekanneute en situs misloop nie. Weekliks, elke Donderdagaand om 18:00 op kykNET, van nou af tot en met 27 Junie 2019. Vir meer inligting of die volledige skedule van hierdie nuwe reeks besoek asseblief die webtuiste www.nasieingesprek.co.za.

 

Leave A Comment