Nuus Artikel

blog image
17 May
2018

Nasie in Gesprek kyk in die toekoms in na 2035

Die laaste sessie van dag 3 van Nasie in Gesprek by Nampo Oesdag het die paneel gaan kyk hoe die landbou-arena in 2035 gaan vertoon.


Pieter Geldenhuys wat bekend is vir sy toekomsvisie het die geselskap gelei met ‘n paneel wat John Deere se Tavonga Alex Syavora ingesluit het asook Graan SA se Jaco Minnaar, Mezzanine Ware se Wynand Malan en Kobus Steenekamp van Monsanto.

Die slegte deel van die gesprek was dat die toekoms eintlik al hier is en dat die tegnologiese maatskappye die oplossings bied, maar dat regeringsbeleide egter ver agter is. Pieter Geldenhuys het gesê dat bandwydte ook aan mense in die platteland gebied kan word indien die regering “meer frekwensies daar stel.”

Sommige van die verwikkelinge in tegnolgie waarna produsente kan uitsien is trekkers wat hulself bestuur, elektriese trekkers en plaasimplemente, hommeltuie om diere en plante te moniteer, selftoedieners wat ook gebaseer is op area-analise.

Op die gebied van saadontwikkeling het Kobus Steenekamp gesê dat baie opwindende tegnologie op die horison is. “Ons het alreeds sade spesifiek vir droogtetoestande en siektes ontwikkel. In die nabye toekoms sal ons byvoorbeeld gene van sade identifiseer wat tot glukose-allergieë aanleiding gee, en hulle uit die saad kan verwyder.”

Jaco het die punt gemaak dat “ons as produsente sal altyd produseer wat die klant wil hê.” Tavonga, wat van die midweste van Amerika afkomstig is, het gesê dat John Deere data ‘n stap verder neem om na algoritmes te kyk wat data meer kan analiseer sodat hulle voertuie en implemente proaktief kan optree deur bystand vir produsente op hulle plase te bied. Wynand het aangedui dat sy maatskappy saam met Vodacom werk om “binnekort” ‘n wye spektrum toegang aan plattelandse gebiede te bied.

Die paneel het saamgestem dat die sleutel tot die toekoms is om verskillende datastrome te hê, dit te analiseer en die oplossings en toepassings intyds terug te stuur.

Om meer tewete te kom oor wat die toekoms vir ons inhou, kyk dan die episode deur www.nasieingesprek.co.za te besoek.

 

Leave A Comment