Nuus Artikel

blog image
16 May
2018

Nasie in Gesprek – ‘n Gesprek oor Familiebesighede

Die kollig op boerdery as ‘n familiebesigheid kry ‘n heel nuwe momentum met die Verenigde Nasies se aanneming van die konsep van ‘n dekade van familieboerdery. Die regering, besighede en arbeidsektor kan betrokke raak om ‘n voorstaander te wees van volhoubare ontwikkeling om hongersnood wêreldwyd te verlig.


Dit is die agtergrond tot die gesprek tydens die vierde sessie van Nasie in Gesprek tydens die tweede dag van Nampo Oesfees.

Die paneelgesprek was aangebied deur Roelf Meyer en het bestaan uit Agbiz HUB John Purchase, die president van AgriSA Dan Kriek, ‘n afgetrede professor Johan Willemse, ‘n voormalige diplomaat wat nou ‘n groot produsentemaatskappy in Meksiko verteenwoordig Malcolm Ferguson asook Pitso Sekhoto, ‘n Vrystaatse produsent en landbou-aktivis by AFASA.

John het die agtergrond vir die gesprek geskets deur te verduidelik dat die Verenigde Nasies ‘n dekade van familieboerdery verklaar het en deur dit te doen wil hulle graag hê dat regerings wêreldwyd beleidsmaatreëls in plek kry om familieboerderye en klein produsente meer volhoubaar te maak. Volgens John is daar meer as 500 miljoen familieboerderye in die wêreld wat 80% van die voedsel produseer wat ons eet.

Die paneel het saamgestem dat daar geen werklike regeringsbeleide in plek is nie en dat regeringsdepartemente wat ‘n impak op landbou het, egter apart van mekaar funksioneer. “Departemente soos Handel en Nywerheid, Landbou asook Water en Sanitasie, ensovoorts moet beleide ontwikkel wat mekaar komplimenteer wat tot meer suksesvolle familiebesighede sal lei,” sê John.

Pitso het saamgestem en gesê dat “die probleem is dat daar geen politieke wil is om planne en beleide te implementeer nie.”

Johan het op sy beurt by die gesprek aangesluit deur almal te herinner dat werklike kapitaal eers na die derde of selfs vierde generasie behaal word en dat die hoofkwessies is dat daar baie tussengevegte binne families is en dit tot baie probleme aanleiding gee. ‘n Behoorlike opvolgplan moet in plek wees alvorens familiebesighede sal presteer.”

Pitso het die punt gemaak dat regerings in lande soos Brasil, Indië en Sjina wel familiebesighede en klein produsente ondersteun deur suksesvolle regeringsbeleide daar te stel. “Hoekom het dit nog nie hier gebeur nie? Hoekom is die regering nie deel van die gesprek vandag nie?”

Die ander paneelgaste het ook opmerkings gemaak rakende arbeid, misdaad en marktoegang.

Vir die volledige episode en insiggewende gesprek besoek asseblief die Nasie in Gesprek webblad by www.nasieingesprek.co.za waar die volledige uitsaaiskedule oor beskikbaar is.

Leave A Comment