Nuus Artikel

blog image
15 May
2019

Nasie in Gesprek se visier is gemik op Tegnologie en Befondsing

Soos die middagtemperatuur by Nampo Oesfees 2019 tot sowat 25°C gestyg het, so ook het die temperatuur baie warm geraak tydens die tweede sessie van Nasie in Gesprek vandag wat oor Tegnologie enBefondsing gehandel het.


Aangebied deur Theo Vorster het sy paneel bestaan uit Fabio Roverso (Climate Corporation), John Hudson (Nasionale Hoof: Landbou, Nedbank Besigheidsbankdienste; Jacques Taylor (BD Sub-Sahara Afrika, John Deere), Jaco Minnaar (Voorsitter van Graan SA) asook and Martin van Zyl (Groepbestuurder: Innovasie en Geïntegreerde Oplossings, Senwes).

Indien jy gewonder het waarheen landbou oppad is rakende tegnologie is hierdie episode van Nasie in Gesprek beslis vir jou, en kan jy dit nie bekostig om dit mis te loop nie.

Jacques het sake goed opgesom toe hy gesê het: “Ons beweeg van outomatisering na outonomie.” Wat basies beteken dat masjinerie heel waarskynlik in die nabye toekoms hulself sal bestuur. Hy het ook die analogie van die koffiekapsule en koffiemasjien as ‘n voorbeeld van toegevoegde waarde gebruik; en genoem dat dit presies is hoe tegnologie in John Deere-masjinerie sal aanhou om ontwikkel te word.

Senwes se Martin van Zyl se benadering is: “om holisties na die klant te kyk om hulle data te gebruik om oorkopelende oplossings te verskaf, ons verkoop nie produkte aan hulle nie, ons verkoop oplossings.”

Fabio het gesels oor die Field View-toepassing waar “alle data saamgebring word op een platform om die produsent se winsgewendheid te verbeter.” Hy het ook breedvoerig verduidelik hoe die produsent se data beskerm word, saamgevoeg word en gedeel word.”

John het weer oor die samevoeging van data asook data-analise gesels wat risiko faktore kan oorbrug om toegang tot befondsing van die banksektor te kan bekom.

Dit terwyl Jaco sy produsent-hoed opgesit het deur te noem dat dit belangrik is om tegnologie te verpersoonlik en op ‘n winsgewende wyse te implementeer. “Suid-Afrikaanse produsente moet internasionaal kompeterend wees met ander produsente om toegang tot markte te verkry.” Om kompeterend te bly met verskillende klimate en ondersteuningsmodelle van regerings, moet Suid-Afrikaners op die voorpunt van tegnologie wees.”

Hy het ook bygevoeg dat kleinskaalse produsente na saadtegnologie asook konnektiwiteit moet kyk om hulle besighede te verbeter en miskien nie net slegs op groot masjinerie te fokus nie.

Martin het ook verwys na Senwes se samewerking met John Deere om die RTK-netwerk te versprei, terwyl Jacques en Jaco liries raak oor die potensiaal van “Uber”-dienste in landbou en die “Hello Tractor”-dienste in die res van Afrika.


En hierdie is maar net die voorgereg en maak net jou aptyt wakker, so gaan kyk na die volledige uitsending en vind meer uit oor die konsepte en tegnologiese ontwikkelings. Gaan na www.nasieingesprek.co.za vir die volledige uitsaaiskedule.

 

Leave A Comment