Nuus Artikel

blog image
4 Sep
2019

Nasie in Gesprek waai winde van vooruitgang tydens openingsessie van Nampo Kaap 2019

Die eerste sessie van Nasie in Gesprek tydens Nampo Kaap het om 10h30, 4 September op Bredasdorp Park afgeskop met die onderwerp: Die rol van die private- en openbare sektor in die skepping van ‘n groeiende ekonomie in SA.


Dié gesprek is gelei deur welbekende Nasie in Gesprek-anker, Theo Vorster. Op die paneel was Jannie de Villiers (Hoof Uitvoerende Bestuurder: Graan SA); Francois Strydom – Agbiz Voorsitter en Senwes Groep Hoof Uitvoerende Beampte); Dr John Purchase (Agbiz Hoof Uitvoerende Beampte); Leona Archary – Hoof van Landbou: Bigen Africa); en Dr Ivan Meyer (Wes-Kaap Provinsiale Minister van Landbou).

Die gesprek het gefokus op die uitdagings wat voorlê vir die beplande Landbou-ontwikkelingsagentskap, en die regering se vyfjaar plan om met die private sektor in sy inisiatiewe saam te werk.

Dr Ivan Meyer het gestel dat hy baie bly en opgewonde is dat die president en minister dit goedgedink het om landbou te prioritiseer vir ekonomiese groei. Jannie de Villiers se boodskap namens die privaat- en landbousektor aan die minister was: “Dankie, ons is nou op die regte pad. As privaatsektor wil ons nou help en hande vat met die staat om die planne wat ondermeer vennootskappe en innovasie insluit, uit te voer”. Leona Archary het bygevoeg dat die PPGI (Public and Private Growth Initiative) werklik ‘n goeie plek is waar Suid-Afrikaners saam nuwe idees en maniere kan ontwikkel om die ekonomie en groei van die ekonomie te dryf.

Francois Strydom se boodskap was dat elkeen in SA eienaarskap moet neem en dat ons nie moet verwag iemand anders gaan die situasie red nie. Hy stel verder dat ons nou by ‘n kritiese kruispunt is met ‘n kaal geplunderde land en dat dit tyd is om te herbou. Met ekonomiese stimulasie en vergoeding kan Suid-Afrikaners enige inisiatief maak werk. Dr. John Purchase het bygevoeg dat SA werklik ’n groot bate in landbou het. “Ons het risiko’s en uitdagings in die groter landbousektor maar ons skep werk en ontsluit buitelandse.

Verhoudinge, innovasie, vaardigheidsontwikkeling en beter marktoegang is deur die paneel as suksesfaktore van landbou geïdentifiseer met uitvoere na Afrika wat kern is tot ekonomiese groei. Ongeveer die helfte van SA se landbou-uitvoere gaan na Afrika. Dr Ivan Meyer het uitgewys dat Afrika binnekort een miljard mense gaan hê en dié is honger en moet gevoed word. “Dit is waar ons fokus van uitvoere moet wees, met ‘n ekonomie wat uitvoergedrewe is lê die geleenthede in die toegang tot die mark”.

Die oorhoofse boodskap was dat beide die privaat en openbare sektore nie alleen ekonomiese groei gaan kan bewerkstellig nie en dat die privaatsektor die staat se hand moet vat om die daargestelde planne uit te voer.

Om dié gesprek weer te kyk of vir meer inligting rakende Nasie in Gesprek besoek gerus www.nasieingesprek.co.za. Laai ook die Nasie in Gesprek toep af en ervaar Nasie in Gesprek asof jy in die ateljee sit. http://fwd2.co/app

 

 

Leave A Comment