Nuus Artikel

blog image
12 Sep
2018

Volhoubare Vleisproduksie op Nasie in Gesprek by Nampo Kaap

Die tweede sessie van Nasie in Gesprek by die eerste Nampo Kaap landboutentoonstelling, het die kollig op volhoubare intensiewe vleisproduksie (skaap) geplaas.


Theo Vorster het gasheer gespeel vir 'n paneel kundiges, bestaande uit dr Karin Wessels van Mamre Intensive Sheep Farms, Izak Hofmeyr van Plaas Media; veearts dr D’Wall Hauptfleisch en Charné Josling, 'n lektor by die Universiteit van die Vrystaat wat in dierevoeding spesialiseer.

Izak het die agtergrond geskets, wat daarop dui dat skaapproduksie "drasties afgeneem het oor die afgelope 15 jaar, hoofsaaklik weens diefstal en plundery. Intensiewe boerdery is nie iets nuuts nie, maar dit bied jou die vermoë om jou vinger op die pols van al die elemente wat belangrik is vir suksesvolle produksie, te hou.”

Karin en haar man Manie het die MILS (Mamre Intensiewe Lam Stelsel) ontwikkel, in terme waarvan lammers maandeliks geproduseer word. “Ons het baie navorsing gedoen en uiteindelik ons trop in 8 groepe verdeel. Elke groep ooie word gemonitor en daar word rekord gehou van elke proses in die stelsel, wat in 'n databasis bewaar word.”

Dr D’Wall het aangedui dat "wanneer 'n mens 'n klomp diere saam in een spasie hou, moet jy baie seker maak dat jou bio-sekuriteitsmaatreëls van die beste is. Maak seker dat jou werkers hulself steriliseer voordat hulle die spasie binnekom. Die hoenderboere is ons ver vooruit op die gebied.”

Charné het die belangrikheid van voer beklemtoon. “Die diere het baie spesifieke voedingsbehoeftes op spesifieke tye van hul siklus, byvoorbeeld wanneer hulle dragtig is en tydens soogtyd. Die belangrikste is om 'n voer te verskaf met voldoende proteïene, vitamines en energie.”

Izak maan dat boere wat 'n intensiewe stelsel wil volg, seker moet maak dat hul begroting 'n opbrengs op belegging eers na 10 maande sal kan hanteer, wat die dragtigheidsperiode en volwassenheid van die lammers sal dek.”

Vir meer inligting oor hierdie baie interessante onderwerp, kyk na die volledige bespreking op www.nasieingesprek.co.za en volg die program vir die inhoud van die ander besprekings wat op 13 en 14 September, lewendig vanaf Nampo Kaap, gehou sal word.

Leave A Comment