Oor Nasie in Gesprek

Nasie in Gesprek van toeka tot nou


2013 Nasie in Gesprek

Nasie in Gesprek het reeds in 2013 begin met die eerste produksies wat by die Nampo Oesdag as Senwes Toekomsfokus Gespreks-forum afgeskop het. ʼn Afrikaanse insetsel is op kykNET, tydens die Dagbreek-program uitgesaai. Die hooffokus was om ‘n gekonsolideerde platform te vestig waar die landbousektor in gesprek kan tree en waar landboubesighede, verskaffers, produsente en ander belanghebbendes saam kan praat.


2014 Nasie in Gesprek

In 2014 bereik die inisiatief nuwe hoogtes en word die Nasie in Gesprek handelsmerk gevestig. Die doel was hier om ook ‘n wyer gehoor as die landbou-sektor te bereik en die heersende persepsies rakende landbou en kwessies in landbou ten goede te beïnvloed.


2015 Nasie in Gesprek

Nampo 2015 was ‘n mylpaal in die geskiedenis van Nasie in Gesprek waar paneelbesprekings vir die heel eerste keer in beide Afrikaans en Engels aangebied is. Meer as 40 paneelgaste neem deel aan die besprekings wat toesien dat daar diverse sienings oor knellende kwessies op die tafel geplaas word.

Dit is dan ook later daardie dieselfde jaar wat die visie, om die gesprek uit te brei na ʼn wyer gehoor, verwesenlik word en Nasie in Gesprek ‘n 13-episode gespreksreeks bekendstel wat vanaf September 2015 tot en met Januarie 2016 op kykNET, Business Day en Soweto TV gebeeldsend word.


2016 Nasie in Gesprek

2016 was Nasie in Gesprek se vierde agtereenvolgende jaar by Nampo Oesdag en tydens die geleentheid was die oogmerk om die algemene Suid-Afrikaner in te lig rakende die belangrike rol wat landbou in Suid-Afrika speel. Die doelwit was om gesprekke tussen leiers vanuit verskillende affiliasies, politiese agtergronde en besigheidsektore te bevorder.

Dit was dan ook in 2016 wat Nasie in Gesprek se digitale voetspoor verder uitgebrei het met die ontwikkeling van ‘n nuwe toepassing waarop gesprekke regstreeks gevolg kan word.


2017 Nasie in Gesprek

Die gesprek duur voort en Nasie in Gesprek skop 2017 op 4 Januarie af met die eerste episode van nog ‘n nuwe reeks. Die verfilming van die 13-episode televisiereeks het alreeds in November 2016 begin. Die nuwe reeks gaan ook gepaard met ‘n gedaanteverwisseling en Nasie in Gesprek reis deur Suid-Afrika waar die vernaamste bedrywe besoek word. Kenners sluit ook dan by die gesprek vir ateljeebesprekings waar hul insae gee oor relevante landbou-onderwerpe.

Die reeks groei steeds en later dieselfde jaar is Nasie in Gesprek vir die vyfde keer by Nampo waar paneelbesprekings oor die bestek van die vier dae in Afrikaans en Engels gehou word. Hoofstroommedia berig meer en meer oor die program en ‘n volledige radioprogram word as nog ‘n kanaal vir die gesprek bekendgestel.

Gaste soos Carte Blanche se Derek Watts; 702 en CapeTalk se Eusebius McKaiser; voormalige Nasie in Gesprek gasaanbieder en media kenner Jeremy Maggs; HUB van Galileo Capital, Theo Vorster; voormalige politikus en huidige voorsitter van die In Transformasie Inisiatief, Roelf Meyer; Money Show aanbieder Bruce Whitfield; Nasie in Gesprek mede-aanbieder Mpumelelo Mkhabela en Power FM se aanbieder Andile Khumalo.